Resepte Afrikaans - Avokado Geregte                     Na: Uit die Kombuis                          Home

Avokado Geregte

Avokado en Kaasdis
1 avokado     125g cheddarkaas
3 selderystingels, gekap     125ml ongegeurde jogurt
30ml mayonnaise     sout en peper na smaak
5ml kerriepoeier     vars pietersielie vir garnering

Halveer, ontpit en skil die avokado en sny dit in blokkies. Sny die kaas in dieselfde grote blokkies soos die avokado. Meng
die avokado en kaasblokkies met die seldery. Meng die jogurt, mayonnaise, sout en peper en kerriepoeier. Skep die
avokadomengsel en mayonnaise mengsel in afwisselende lae in `n deurskynende glasbak of in lang glase en bedien
as voorgereg. Garneer met pietersielie. Lewer 4-6 porsies.

Avokado Omelet
6 eiers     85ml melk
sout en vars gemaalde peper na smaak
125ml botter
1 avokado
1 middelslag tamatie, geskil en gekap
gekapte pietersielie vir garnering
25ml Cheddar kaas, gerasper
1 klein uitjie, fyn gekap

Skei 3 eiers en klits die eierwitte tot lig en skuimerig. Klits die eiergele en die ander 3 eiers met `n draadklitser by die
eierwitte in. Voeg die melk, sout, peper en kaas by. Smelt die botter oor matige hitte in `n braaipan. Gooi die helfte van
die mengsel in die pan en braai tot bruin aan die eenkant. Draai dit om en braai dit aan die ander kant. Skep dit uit en
herhaal dit met die res van die mengsel. Halveer, ontpit en skil intussen die avokado en sny dit in skyfies. Sny elke omelet
in die helfte deur en plaas op `n verhitte bord. Rangskik die avokado skywe op die omelet. Meng die gekapte tamatie en
ui en skep dit bo op die avokadoskyfies.

Avokado en Bone
30 ml olyfolie      
1 ui, fyngekap
1 x 410g-blik bone in tamatiesous      
5ml matige kerriepoeier
1 blokkie groente-ekstrak, opgelos in 125g kookwater      
sout en varsgemaalde swartpeper
2 avokado's, gehalveer en die pitte verwyder      
gekapte, vars pietersielie
60ml kaas-en-uie-aartappelskyfies, fyngemaak

Verhit die olyfolie in 'n swaarboomkastrol en soteer die ui tot sag en deurskynend. Voeg die bone by en verhit tot kookpunt.
Roer die aftreksel, sout, peper en kerriepoeier by en laat vir 'n paar minute prut. Skep 'n bietjie van die avokado uit sodat
die holte groter is. Meng die uitgeskepte avokado en bonemengsel saam en skep terug in die holtes. Plaas op 'n
gesmeerde bakplaat en bak vir 10-15 minute of tot deurwarm in 'n voorverhitte oond by 180C. Sprinkel die fyngemaakte
skyfies oor en garneer met gekapte pietersielie. Lewer 4 porsies.
WENK:
Moenie toelaat dat die avokado kook nie, aangesien dit 'n bitter smaak aan die gereg sal verleen.

Avokado Slaai
1 groot avokado, fyngedruk     
1 pakkie suurlemoenjellie
375ml kookwater     
1 klein gerasperde ui
25ml mayonnaise

Maak suurlemoenjellie aan met die kookwater. Voeg avokado, ui en mayonnaise by. Meng goed en laat stol.