Home
Afrikaans



Pretoria en die Uniegebou

Unieke en geskiedkundige gegewens met betrekking tot Pretoria en die Uniegebou

Die Uniegebou geleë op Meintjieskop, Pretoria, is die amptelike setel van die Suid-Afrikaanse regering en huisves
ook die kantoor van die President van Suid-Afrika.

       
Foto 1. Die Uniegebou op Meintjies Kop in Pretoria en 'n ruiterstandbeeld van Genl. Louis Botha in die voorgrond
Die Uniegebou is teen die suidehang van Meintjieskop gebou. Meintjeskop is vernoem na Stephanus Jacobus Meintjes wat van Graaff-Reinet na Pretoria gekom het. Meintjes het 'n gedeelte van die ou plaas Elandsfontein, wat oorspronklik aan Marthinus Wessel Pretorius behoort het, op 7 April 1865 vir £2 400 van Andries du Toit gekoop. Du Toit het die grond waar die Uniegebou vandag staan uit die boedel van Gerrit Bronkhorst gekoop.
Oorspronklik is daar na "Meintjes se kop" verwys, maar reeds in 1870 het dit as Meintjeskop bekend gestaan.
Die hoeksteen is in November 1910 gelê deur die Hertog van Connaught. Die geboue is in 1913 voltooi. Hierdie geboue, gebou van ligte sandsteen en ontwerp deur die argitek Sir Herbert Baker in die Engelse monumentstyl en ou Nederlandse argitektoniese motiewe, is 285 m lank.
Die halfmaan gebou het 2 vleuls - hierdie twee vleuels verteenwoordig die unie van die Afrikaners en die Britte. Saam het hulle die Unie van Suid-Afrika gevorm. Die Uniegebou met sy wonderlike amfiteater, kan meer as 1500 amptenare huisves.
Met die bou daarvan is 465 ambagsmanne en 800 algemene arbeiders gebruik. Dan moet bygereken word 40 000 sakkies sement, 14 miljoen stene, 74 000 kubieke meter beton en 20 000 kubieke voet graniet.In die proses is 88 hyskrane gebruik.
Foto 2. Generaal Louis Botha. Hy is van 1910 tot 1919 die eerste eerste minister van die Unie van Suid-Afrika.
Botha het as leier van die Het Volk-party in 1907 eerste minister geword en met Uniewording in 1910 is hy tot leier van die pasgestigte Suid-Afrikaanse Party (1911 tot 1934) verkies, wat hom ook eerste minister van die land gemaak het.

Ou Pretoria
*Die sement wat gebruik was om President Paul Kruger se huis in Kerk straat te bou was gemeng met melk.Die rede;
melk, so was geglo, was n beter bindingsmiddel as water.
*Dr Paul Greyling, inwoner van Wonderboom en geskiedkundige, vertel dat een van sy eggenoot se voorsate gedurende
die laat 1890's geskryf het dat die mense hier met verskillende volksdrag uit Europa in Pretoria se strate rondloop.
Izaak Wust, n Hollandse onderwyser, het op 29 April 1897 aan sy familie in Nederland geskryf:
"Pretoria is een mooie plaats, sommigen noemen het een dorp en anderen een stad; ze teld 20 000 inwoners uit alle
landen en volken, zoodat de meest onderscheiden kleederdrachten gezien worden."
*Die eerste biskop van Pretoria was hoogeerwaarde H Bousfield, wat in1879 aangekom het.
*n Nuwe kerkgebou vervang die ou kerk op Kerkplein en word op 23 Januarie 1885 ingewy.
*n Week nadat die Britse magte Pretoria beset het, is prysbeheer ingestel. n Proklamasie waarin die pryse van voedsel,
drank, brandstof en voer beheer is, is ingestel.
Die skedule tot die proklamasie dui nie net die prysbeheer aan nie maar ook die verskillende produkte wat beskikbaar was.

Die waarde van ou inwoners van die stad se staaltjies is telkens bewys deur een van dié optekenare van Pretoria se geskiedenis, wyle Tom Andrews.

In die Pretoriana van Desember 1970 verskyn 'n onderhoud wat Andrews gehad het met Charles John Beans, toe reeds 93 jaar oud. Beans het in 1900 as lid van die Britse Poskantoorkorps na Suid-Afrika gekom, en hom die daaropvolgende jaar in Pretoria gevestig.

Hy het onder meer aan Andrews vertel van die militêre kamp wat eens net oos van Hillstraat in Hatfield geleë was. Dié gedeelte van die stad was nog onbewoon, en Kirknessstraat (genoem na bouaannemer J.J. Kirkness) was die oostelike grens van Clydesdale. Hier is hospitale vir die Britse magte ingerig.

Voorts vertel hy van die Britse militêre ruskamp op die terrein waar Pretoria Boys' High vandag is, en van die Imperial Yeomanry-hospitaal op die hoek van Kerk- en Beckettstraat van waar die uitsig oor die sowat 20 huise oos van Hamiltonstraat was!

Volgens Beans het Johann Rissik (oor wie ons ook al gesels het) Hillcrest op die sogenaamde uitvalgrond van die hand gesit. In Heroldstraat, wat skynbaar na 'n regter van die destydse hooggeregshof genoem is, was daar 'n Britse blokhuis. Dus was die straat se naam eens Blockhousestraat.

Met dié dat min van die huidige strate reeds uitgemeet was, kon 'n mens nie van Hatfield na Hillcrest of Brooklyn gaan nie tensy jy Roperstraat gebruik het. Ander deurgange was daar nie. "Dinge het verander," aldus Beans, "toe die stadsraad Hillcrest uitgemeet en Duncanstraat aangelê het." Dié straat het die ou Jamesstraat ingesluit, so genoem na James Brooks aan wie Brooklyn sy naam te danke het.

Brooks was 'n landmeter wat gehelp het met die opmeet van die Lourenço Marques-spoorlyn, en ook Brooksstraat en Brooks House gedenk sy verblyf in Brooklyn.

Hatfield, soos die aangrensende woonbuurt Colbyn, is opgemeet deur die Wesleyaanse (Metodiste) kerkvereniging wat dieselfde seggenskap gehad het in Queenswood en Kilnerpark. En, eienaardig soos dit vir hedendaagse inwoners klink, het transportaktes die beperking gedra dat geen drank in een van dié vier woonbuurte verkoop mog word nie!

Oor die herkoms van die naam Colbyn het Beans vertel dat dit genoem is na die dorp Colby op die eiland Man waar J.B. Kneen, ontwikkelaar van Colbyn, gebore is. Douglasstraat verwys na 'n plek naby Colby, sowel as na die oudste seun van Kneen. Amosstraat is genoem na Amos Burnet, Wesleyaanse sendingprinsipaal van die Transvaal. Burnettstraat in Hatfield dra ook sy naam, maar dáár het egter 'n tweede "t" na sy van ingesluip.

Kneen wou homself ook graag vernoem, maar op die end afgesien daarvan omdat hy bang was dat dit moeilikheid met die posowerheid sou veroorsaak omdat hulle "nie sou weet hoe om dié uitheemse van te spel nie"!