Pretoria en die Uniegebou                                           Deurpad                                          Home

Unieke en geskiedkundige gegewens met betrekking tot Pretoria en die Uniegebou

                    
Die Uniegebou:

Die unieke struktuur is ontwerp deur Sir Herbert Baker.Met die bou daarvan is 465 ambagsmanne en 800 algemene
arbeiders gebruik. Dan moet bygereken word 40 000 sakkies sement, 14 miljoen stene, 74 000 kubieke meter beton
en 20 000 kubieke voet graniet.In die proses is 88 hyskrane gebruik.
Bron: Capital Media. Sien meer oor die Uniegebou en die Unie van Suid Afrika (Engelse weergawe)

Ou Pretoria
*Die sement wat gebruik was om President Paul Kruger se huis in Kerk straat te bou was gemeng met melk.Die rede;
melk, so was geglo, was n beter bindingsmiddel as water.
*Dr Paul Greyling, inwoner van Wonderboom en geskiedkundige, vertel dat een van sy eggenoot se voorsate gedurende
die laat 1890's geskryf het dat die mense hier met verskillende volksdrag uit Europa in Pretoria se strate rondloop.
Izaak Wust, n Hollandse onderwyser, het op 29 April 1897 aan sy familie in Nederland geskryf:
"Pretoria is een mooie plaats, sommigen noemen het een dorp en anderen een stad; ze teld 20 000 inwoners uit alle
landen en volken, zoodat de meest onderscheiden kleederdrachten gezien worden."
*Die eerste biskop van Pretoria was hoogeerwaarde H Bousfield, wat in1879 aangekom het.
*n Nuwe kerkgebou vervang die ou kerk op Kerkplein en word op 23 Januarie 1885 ingewy.
*n Week nadat die Britse magte Pretoria beset het, is prysbeheer ingestel. n Proklamasie waarin die pryse van voedsel,
drank, brandstof en voer beheer is, is ingestel.
Die skedule tot die proklamasie dui nie net die prysbeheer aan nie maar ook die verskillende produkte wat beskikbaar
was.

Die waarde van ou inwoners van die stad se staaltjies is telkens bewys deur een van dié optekenare van Pretoria se  
geskiedenis, wyle Tom Andrews.
In die Pretoriana van Desember 1970 verskyn 'n onderhoud wat Andrews gehad het met Charles John Beans, toe reeds
 93 jaar oud. Beans het in 1900 as lid van die Britse Poskantoorkorps na Suid-Afrika gekom, en hom die daaropvolgende
jaar in Pretoria gevestig.
Hy het onder meer aan Andrews vertel van die militêre kamp wat eens net oos van Hillstraat in Hatfield geleë was. Dié
gedeelte van die stad was nog onbewoon, en Kirknessstraat (genoem na bouaannemer J.J. Kirkness) was die oostelike
grens van Clydesdale. Hier is hospitale vir die Britse magte ingerig.
Voorts vertel hy van die Britse militêre ruskamp op die terrein waar Pretoria Boys' High vandag is, en van die Imperial
Yeomanry-hospitaal op die hoek van Kerk- en Beckettstraat van waar die uitsig oor die sowat 20 huise oos van
Hamiltonstraat was!
Volgens Beans het Johann Rissik (oor wie ons ook al gesels het) Hillcrest op die sogenaamde uitvalgrond van die hand
gesit. In Heroldstraat, wat skynbaar na 'n regter van die destydse hooggeregshof genoem is, was daar 'n Britse blokhuis.
Dus was die straat se naam eens Blockhousestraat.
Met dié dat min van die huidige strate reeds uitgemeet was, kon 'n mens nie van Hatfield na Hillcrest of Brooklyn gaan
nie tensy jy Roperstraat gebruik het. Ander deurgange was daar nie. "Dinge het verander," aldus Beans, "toe die
stadsraad Hillcrest uitgemeet en Duncanstraat aangelê het." Dié straat het die ou Jamesstraat ingesluit, so genoem na
James Brooks aan wie Brooklyn sy naam te danke het.
Brooks was 'n landmeter wat gehelp het met die opmeet van die Lourenço Marques-spoorlyn, en ook Brooksstraat en
Brooks House gedenk sy verblyf in Brooklyn.
Hatfield, soos die aangrensende woonbuurt Colbyn, is opgemeet deur die Wesleyaanse (Metodiste) kerkvereniging
wat dieselfde seggenskap gehad het in Queenswood en Kilnerpark. En, eienaardig soos dit vir hedendaagse inwoners
klink, het transportaktes die beperking gedra dat geen drank in een van dié vier woonbuurte verkoop mog word nie!
Oor die herkoms van die naam Colbyn het Beans vertel dat dit genoem is na die dorp Colby op die eiland Man waar J.B.
Kneen, ontwikkelaar van Colbyn, gebore is. Douglasstraat verwys na 'n plek naby Colby, sowel as na die oudste seun
van Kneen. Amosstraat is genoem na Amos Burnet, Wesleyaanse sendingprinsipaal van die Transvaal. Burnettstraat in
Hatfield dra ook sy naam, maar dáár het egter 'n tweede "t" na sy van ingesluip.
Kneen wou homself ook graag vernoem, maar op die end afgesien daarvan omdat hy bang was dat dit moeilikheid met
die posowerheid sou veroorsaak omdat hulle "nie sou weet hoe om dié uitheemse van te spel nie"!