Home
Afrikaans


Suikersiekte

Wat is Suikersiekte?
Diabetes Millitus of Suikersiekte is n kondisie waar die liggaam nie beheer oor die suikervlakke het nie. Insulien, 'n hormoon wat deur die pankreas geproduseer word, tree as 'n sleutel op wat suiker van die bloed na die selle vervoer wat dan in energie vir die liggaam omgesit word. 'n Persoon wat aan Suikersiekte lei, het òf 'n tekort aan insulien òf die insulien wat beskikbaar is kan nie as gevolg van verskeie redes effektiewelik gebruik word nie.

Daar is twee soorte Suikersiekte naamlik:
TIPE I of Insulien Afhanklike Suikrsiekte
TIPE II of Insulien Onafhanklike Suikersiekte

Dieet is 'n baie belangrike aspek van die behandeling van albei tipes Suikersiekte, wanneer die korrekte dieet gevolg word is dit makliker om die suikervlakke te beheer. Goed beheerde suikervlakke sal die simptome soos moegheid, dors en verdofde sig wat algemeen met die verwaarlosing van Suikersiekte geassosieer word, minimiseer. Koronêre hartsiektes, nierskade en swak sig is 'n paar van die langtermyn komplikasies van Suikersiekte, wat verhoed kan word as die bloed-suiker vlakke binne die bepaalde perke gehou word.

Daar is egter nie so iets soos 'n Suikersiekte dieet nie! Diabete behoort dieselfde riglyne vir 'n gesonde lewenswyse te volg as wat vir die res van die populasie voorgeskryf word. Wanneer iemand in die familie aan Suikersiekte lei, kan dit gewoonlik lei tot gesonde eetgewoontes vir die hele gesin.

Die sleutel tot 'n gesonde eetwyse
Die sleutel tot 'n gesonde dieet is om 'n verskeidenheid kossoorte in die korrekte hoeveelhede te kies soos aangetoon in "'n Gids tot Gesonde Eetwyse- Die Voedsel Piramiede"(Voubiljet Nommer 1). Die diëtetiese riglyne is soos volg:
*Eet ten minste drie gereelde maaltye per dag, en sluit 'n verskeidenheid kossoorte in die dieet in.

*Beplan jou maaltye rondom die styselkosse, soos aartappels, brood, mieliemeel, pap, graansoorte, rys en pasta.
Die vesel wat voorkom in hawermout, vrugte, groente droë bone, ertjies en lensies, is besonder effektief om bloedsuiker vlakke te beheer. Ander kosse wat ryk is aan vesel sluit in volkoring brood, heelgraan graansoorte, onverfynde mieliemeel en bruin rys.

*Verminder die inname van suiker en soet kosse. Kies suiker-vrye sap en dieet koeldranke, probeer ook om kunsmatige versoetingsmiddels te gebruik wanneer kosse wat gewoonlik suiker benodig versoet moet word. Hierdie versoeters is beskikbaar in tabletvorm vir warm drankies, in poeiervorm kan dit oor pap gesprinkel word en in vloeistof vorm kan dit vir kookdoeleindes gebruik word.

*Die totale inname van vet moet verminder word. Kies lae-vet kosse; bak, rooster, kook of stoof kosse in stede daarvan om dit te braai in olie. Sny alle sigbare vet van vleis af voordat dit berei word. Vermy verwerkde vleise soos salamie en polonie, gebruik lae-vet suiwel produkte, soos lae-vet kaas, melk en jogurt. Gebruik minder van al die soorte vette, veral dierevette. Gebruik lae-vet margarien of sonneblom-, canola- of olyfolie waar moontlik.

*Wees versigtig om uit te eet, om sodoende vetterige kosse te vermy. Kies kos soos deursigtige sop, slaaie sonder slaaisouse, geroosterde vis, gebakte aartappels en groente. Sny kitskosse, pasteie, vetkoek, aartappelskyfies en terte uit die dieet, aangesien hierdie kosse 'n baie hoë verskuilde vetinhoud het.

*Vermy om oorgewig te word deur 'n gesonder eetwyse aan te neem en meer fisiese oefeninge te doen. Deur gewig te verloor sal beheer oor jou bloedsuiker vlakke verbeter.

* Eet meer heel vrugte en groente, want hul besit 'n hoë vesel inhoud sowel as anti-oxidante vitamines, wat albei die risiko van hartsiektes verminder. Wees versigtig wanneer jy onversoete vrugtesappe drink, die hoë konsentrasie natuurlike suikers kan 'n skielike, skerp verhoging in die bloedsuikervlakke veroorsaak.

*Gebruik matige hoeveelhede sout, aangesien sout heel moontlik gekoppel kan wees aan hoë bloeddruk vlakke.

*Alkohol moet ook magtig gebruik word - nie meer as 2 drankies per dag word deur die Suid-Afrikaanse Diabeties Vereniging aanbeveel. Drink altyd alkoholiese drankies saam met vleis of 'n versnappering, en nooit op 'n leë maag nie.

Diabetiese Kosse
Daar is geen rede om spesiale produkte, wat gewoonlik baie duur is, aan te koop nie. Baie diabetiese produkte soos diabetiese sjokolade en beskuitjies, het hoë vet en fruktose inhoude, en moet dus matig gebruik word. Hierdie produkte sal nie help met gewigsverlies nie. Produkte met 'n versoetingsalkohol soos sorbitol kan 'n lakserende effek uitoefen as dit oorbodiglik gebruik word.